
Laerskool Brentwoodpark, wat reeds in 1926 in ‘n sentrale Oos-Randse ligging gestig is, is ‘n skool met ‘n indrukwekkende geskiedenis en staan ook bekend vir die jaarlikse Brentiefees, waartydens ongeveer 1500 mense op die rugbyveld saamtrek en feesvier.
Brenties is in ‘n redelik landelike omgewing geleë met meestal leerders vanuit omliggende areas, en ook baie leerders wat uit ‘n stadsomgewing kom. Die skool was in die verlede ‘n Model C - skool en is tans ‘n suiwer Afrikaansmedium Staatskool. Die skool het ‘n totaal van 650 kinders vanaf Gr Pre-R tot Gr7, wat deur noue samewerking tussen die skoolpersoneel en ‘n aktiewe verkose Beheerliggaam bestuur word.
Die skool se sentrale ligging, bied ‘n 10km omvangsgebied tussen die woonbuurte Goedeburg, Atlasville, Impala Park, Northvilla, Northmead, Farrarmere, Alphen Park, Bardene, Bartlett, Beyerspark, Lakeside, Pomona, Bredell, Norton Home Estates, Benoni, Rynfield en Bonaero Park. Brentwood Park is geleë in die nabyheid van Oliver Tambo Lughawe en ‘n voorstad van Benoni.
Die “Brenties” het sterk Christelike norme en waardes, wat gedurende elke leerder se opvoeding en onderrig by die skool ‘n prioriteit is. Die omvattende ontwikkeling van kinders, wat gesonde sport- en kultuurontwikkeling insluit, word ook as baie belangrik beskou. Laerskool Brentwood Park leef sy leuse, wat bekend staan as “Die skool wat omgee” op ‘n daaglikse wyse ten volle uit, en die skoolgemeenskap dra die belange van die skool na aan die hart.
Vanuit 'n akademiese, uitnemendheid perspektief, bied Brenties se omvattende opleidingskapasiteit die ideale oplossing vir langtermyn opvoedkundige doeleindes aan. Voorskoolse opvoeding begin in Graad PrePre R, op vier jarige ouderdom, tot Graad 7, en leerders kan daarna een van verskeie hoërskole in die woonbuurt bywoon. Die laerskool het drie Gr Pre R- en drie Gr R klasse met ‘n gemiddelde 20 leerders per graad.
Die opgradering van verskeie geriewe is in die proses, en die skool bou tans nuwe Gr R-klasse waarvan twee reeds voltooi is, en bouwerk aan die derde klas het reeds begin en sal in Julie 2011 voltooi wees. Die ontwikkeling van ‘n parkeerarea om die veilige op- en aflaai van leerders te verseker is ook in beplanning stadium.
By die Brenties word leerders bewus gemaak van die noodsaaklikheid in sosiale uitreiking, deur die skool se gereelde deelname in plaaslike behoeftige sake. Hoewel die skool ‘n jaarlikse “Omgeeweek” gedurende Augustusmaand hou, ervaar leerders uitreiking aan behoeftiges uit verskillende vlakke van die gemeenskap op gereelde basis. Spesiale projekte sluit in die skool se uitreiking na die bejaarde bewoners van twee aftree-oorde in die skool omgewing. Verder reik Brentwood Park Laerskool deurlopend uit na die plaaslike kinderhuis, Collinhuis, wat van Brenties se leerders huisves.
BRENTIES, 97 JAAR GESPAAR!
Iemand het eendag gesê: “As mens iets in die lewe bereik het, wees dankbaar vir die verlede”. Laerskool Brentwoodpark herdenk vanjaar ons sy 89 ste bestaansjaar. Ja, in 1926, in April, is die skool gestig . . . . in `n ontspanningsaal met twee personeellede!
Eers sewe jaar daarna, in 1933, is `n sogenaamde “nuwe skool” opgerig, met sink en `n paar ou asbesklasse. Uit die vroeë geskiedenis van die skool kan afgelei word dat hierdie gemeenskap moeilike tye beleef het. Ons lees in die joernale van `n oueropstand agv swak akkomodasie, van onooglike sinkgeboue en onhigiëniese toestande!
Na `n lang stryd, is die huidige skool se hoeksteen in 1955 gelê. Sedertdien het die skool gegroei en ontwikkel en van krag tot krag gegaan. Die skoolgemeenskap van Brentwoodpark het deur die jare baie hard gewerk om ons skool te kry waar dit vandag is. Dit is omskep in `n veilige opvoedkundige omgewing met fasiliteite wat voldoen aan die vereistes vir deeglike onderrig en opvoeding.
So, as ons dan na al die wonderlike prestasies van die afgelope jare kyk, vra ons ons dan die vraag af : “Het ons iets bereik? Die antwoord spreek vanself! Ons handhaaf onsself in alle opsigte en is `n skool om mee rekening te hou.
Dankbaar vir die verlede? Beslis : JA! Ons is dankbaar vir manne en vroue, ons voorgangers, van die verlede wat diep spore in ons skool se geskiedenis getrap het en wat in die voortbestaan van ons skool geglo het. Tydens ons feesvieringe, bring ons dan ook hulde aan hulle.
Maar bowe-al. dank ons ons Hemelse Vader vir die seën en groot genade wat ons die afgelope 89 jaar ontvang het.